Schutte Fotoblad 2

Wil jy onder begin? Kliek hier ... Fotoblad 1 Terug na Fotoalbum-indeks
Genl. Stanley Harold SCHUTTE, gebore op 4 Oktober 1928 te Kuruman, en in 1953 getroud met Maria Elizabeth FERREIRA van Odendaalsrus.

Sy attestasie as 'n polisiebeampte vind op 4 Februarie 1947 te Graaff-Reinet plaas. Hy word in 1947 na die SAP Kollege verplaas en word in 1962 na Luitenant bevorder. Op 1 Januarie 1964 word hy na die Intelligensiediens verplaas en word in 1968 as lyfwag van wyle oud President en Eerste Minister BJ Vorster.

Hy verwerf in 1969 sy BA-graad aan UNISA. In 1973 word hy na die speurtak verplaas en doen o.a. diens te Bloemfontein en Middelburg, Transvaal. In 1974 verwerf hy sy BA Hons-graad ook aan UNISA. Hy word daarna na Springs verplaas en verwerf sy MA-graad in 1980 aan UNISA. Hy word in 1981 na Kompol in Pretoria verplaas en word in 1983 in die Staatsveiligheidsraad opgeneem. In 1984 word hy Hoof van Veiligheid en op 1 Januarie 1986 as Adjunk-hoof van die Speurtak aangestel in Pretoria en word op 1 Desember 1986 as Hoof van die Speurtak aangestel en word toe ook tot Luitenant-generaal bevorder.

Op 30 September 1988 verwerf hy sy D. Litt. Et. Phil. graad aan UNISA met die titel: "'n Polisiekundige ondersoek na die United Democratic Front". Op 31 Oktober 1988 tree hy uit die polisiediens.

Die volgende medaljes is aan hom toegeken: Orde van Ster van Suid-Afrika (nie-militêr, klas 2, groot offisier (silwer); Suid-Afrikaanse Polisiester, Voortreflike Diens; Suid-Afrikaanse Polisiester, Uitmuntende Diens; Suid-Afrikaanse Polisiester vir Verdienste; Suid-Afrikaanse Polisiester vir Troue Diens - Balkie 40 jaar; Suid-Afrikaanse Polisiemedalje vir die Bekamping van Terrorisme; Stigtingsmedalje KwaNdebele; Stigtingsmedalje, Gazqankulu.

Sy kinders is Nicolaas Jacobus, Stephanie, Elizabeth Johanna en Renier.

genlst1.jpg

Helena Alida SCHUTTE, dogter van Dr. De Wet en Hester Josina (geb. NEL)

Sy was die hoofmeisie aan die Hoërskool Strand in 2004 en verwerf haar Boland kleure vir netbal en was ook in 2003 aangewys as die beste pianis in ABSA se landwye kompitisie vir Jeugmusici. Sy studeer BA in Waarde en Beleidstudie aan US.

Haar ouer suster Sumari was in 2000 hoofmeisie aan dieselfde skool en het ook haar Boland netbal kleure in 1998 verwerf.

Helena Alida Schutte

Voortrekkergraf:

HIER RUST HESTER ALETTA SCHUTTE GEB. VELUOEN GEB. 30 MAART 1802 OVER 8 JULI 1853 _________________ SALIG HY DIE IN ZYN STERVEN EEN ONTFERMER NAAST ZICH HEEFT JA, HY ZAL DE HEMEL ERVEN WIEN DE RECHTER SCHULD VERGEEFT

Hester Aletta Schutte
Jan Francois SCHUTTE, 13 Nov 1916 Irene - 25 Apr 1944 Duitse krygsgevange-kamp no. 52, Italië, begrawe Assisi oorlogbegraafplaas, Italië.

Hy was eers 'n mynwerker voordat hy in 1940 lid geword het van 1ste SA Ierse Regiment se C Kompanie. Op 21 Januarie 1940 het hy te Durban aanboord van die skip "Llanstephen" gegaan en eers by Mombasa, Kenia op 27 November 1940 aangedoen en toe vanaf Kilindini in Kenia vertrek op die skip "Deinera" op 19 April 1941 en te Suez gearriveer op 3 Mei 1941. Hy neem deel aan gevegte in Noord-Afrika en was as vermis aangegee op 11 Desember 1941. Op 2 April 1942 word dit bevestig dat hy deur generaal Erwin Rommel se Afrika Korps krygsgevange geneem is en in kamp no. 52 in Italië aangehou word. Toe die Geallieerde magte Italië binnegeval het en die Italianers sien die stryd is verlore, het hulle die krygsgevangenes losgelaat waarna hulle in die berge gaan wegkruip het. Die Duiters het niks hiervan gehou nie en begin jagmaak op die krygsgevangenes en hulle voor die voet doodgeskiet. Jan is so vermoor op 25 April 1944 in die Assissi omgewing. Die 1939-1945 Ster, Afrika Ster, Oorlogsmedalje van 1939-1945 en die Afrika Diensmedalje is post mortuum aan hom toegeken. Weermagnommer: 88572.

Hy word in die Assisi oorlogsbegraafplaas begrawe (V,A,10) wat deel vorm van die gemeenskap van Assisi in die provinsie van Perugia. Dié terrein was gekies in 1944 om soldate in te begrawe veral van die periode van Junie en Julie 1944 toe die Duitsers gepoog het om die Geallieerde opmars noord van Rome te keer. Daar is in totaal 1 000 soldate begrawe waarvan slegs enkeles ongeïdentifiseerd is.

Jan Francois Schutte
Jan Jurgens Roets SCHUTTE, 16 Aug 1958 Springs - 23 Aug 1978 Katima Mulilo, seun van Stefanus Johannes Bester SCHUTTE en Johanna Susanna Maria VENTER.

Hy is oorlede tydens die Grens-oorlog toe PLAN (Swapo se gewapende vleuel) Katima Mulilo met 122mm vuurpyle vanuit Zambië aangeval het in die vroeë oggend ure van 23 Augustus 1978. Dertig vuurpyle is afgevuur op die dorp waarvan slegs 2 skade aangerig het. Die een vuurpyl het 'n skool in die swart woonbuurt beskadig en die ander een het 'n bungalow in die militêre basis getref. In dié bungalow is 10 soldate gedood (waarvan Jan Jurges Roets Schutte een was) en 10 ander verwond ("South Africa's Border War, 1966 - 1989" deur Willem Steenkamp bl. 80). Hy was ongetroud. Sy naam verskyn op die ere-rol van gesneuweldes by Fort Klapperkop in Pretoria.

Jan Jurgens Schutte
Dr. Jan Harm Thomas SCHUTTE , 7 Feb 1919 Schuttesdraai, Senekal - 10 Jan 1999 Johannesburg, begrawe 15 Jan 1999 NG Kerk, Linden, seun van Stephanus SCHUTTE (18 Sep 1883 - 27 Oct 1952) en Susanna Maria VAN ROOYEN (12 Apr 1885 - 11 Jun 1952)

Hy het aan die Universiteit van Pretoria gestudeer waar hy 'n meestersgraad in Kunsgeskiedenis behaal het. Sy tesis het oor die werk van die skilder Maggie Laubscher, met wie hy bevriend was, gehandel. Hy het as klerk by die Mielieraad gewerk voordat hy in 1946 by die SAUK aangestel is as organiseerder van jeugprogramme in Afrikaans.

Einde 1948 het hy bedank en twee jaar in Londen navorsing gedoen vir sy doktorale proefskrif gaan doen oor die radiodrama. Hy het sy doktorsgraad aan die UOVS verwerf. Daarna is hy terug SAUK toe waar hy gewerk het tot met sy aftrede as 'n direkteur-generaal in 1981. In die vroeë jare sewentig het hy baie in die buiteland gereis om op die hoogte te kom van die bedryf van televisie wêreldwyd. Hy is in Januarie 1976 aangestel as eerste direkteur van televisieprogramme. Hy sal onthou word vir sy skepping van die radiovervolgverhaal, "Die Du Plooys van Soetmelkvlei" wat die mense in die jare vyftig voor die radio vasgenael gehou het. Hy het vertel hoe mense hom landwyd gebel het en vertel dat die tye van bidure op talle plekke verskuif moes word, omdat mense nie opgedaag het nie aangesien dit gebots het met uitsendings van dié vervolgverhaal. Hy was 'n aanbieder van formaat, voordraer van poësie, voorleser van kortverhale en ander literêre werk en het 'n baie goeie bariton-sangstem gehad. Hy het hom toegelê op die Duitse kunslied waarvan etlike uitvoerings oor die radio uitgesaai is. Boonop was hy 'n formidabele administrateur, iets wat raar is onder kunstenaars.

As akteur het hy "Horacio" in 'n Afrikaanse opvoering van "Hamlet" gespeel en die hoofrol in "Periandros van Korinte" van DJ Opperman met die opening van die Johannesburgse Stadskouburg. Hy het ook die hartroerende "Briewe van tant Magrieta" geskryf, wat handel oor 'n bejaarde wat alleen in 'n outehuis sit. Hy het in die rolprent "Kampus" gespeel asook die televisiereeks "Sondaarspoort" geskryf en daarin gespeel. Hy het in 1991 die besondere erepenning in die uitsaaiwese en die uitvoerende kunste van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang. Hy is in 1992 deur die regering vereer met die orde vir voortreflike diens (goud). Hy was ongetroud en het voor sy dood aan Parkinson se siekte gely. Voor sy dood het hy klaarblyklik in die badkamer geval en drie ribbes gebreek waarna hy in die Olivedale-kliniek opgeneem is waar hy aan 'n beroerte gesterf het.

Dr Jan Schutte
Dr Cecilia Maria Schutte * 26 Jul 1944 - 19 Des 2002, dogter van dr Jan Albert Schutte (28 Aug 1903 - 26 Feb 1998) en Hester Johanna de Klerk (16 Des 1912 - 6 Sep 1994).

Sy was die eerste vrou in Suid-Afrika wat 'n PhD in Wiskunde verwerf het en was 'n Senior lektor in Wiskunde aan RAU. Sy is tromp-op vermoor voor haar huis in Johannesburg.

Cecilia Schutte
Terug na bo...